Liverpool FC

Liverpool FC
Volle naam Liverpool Football Club
Bynaam/me The Reds
Stigting 3 Junie 1892
Tuisveld Anfield, Liverpool
Kapasiteit 53 394
Voorsitter Tom Werner
Afrigter Arne Slot
Liga Premier League
2022/23 5de posisie
Spankleure Spankleure Spankleure
Spankleure
Spankleure
 
Tuiskleure
Spankleure Spankleure Spankleure
Spankleure
Spankleure
 
Wegkleure

Liverpool F.C., (volle naam Liverpool Football Club), is ‘n Engelse professionele sokkerklub wat in Liverpool gebaseer is. Dit is die mees suksesvolste Engelse span in Europese sokkertoernooie, en het reeds ses UEFA Champions League trofeë gewen. Die klub het ook die Engelse topdivisie-liga reeds agtien keer gewen. Everton FC was die eerste sokkerspan om in die Anfield stadion te speel wat vandag bekend is as Liverpool FC se historiese tuiste. ‘n Dispuut tussen Everton en die perseel se eienaar, John Houlding, het daartoe gelei dat Everton geskuif het na Goodison Park en dat Houlding ‘n nuwe span gevorm het – wat uiteindelik bekend sou staan as Liverpool FC. Die nuwe klub het sy eerste wedstryd in 1892 gespeel en sy eerste ligatitel in die 1901-01 seisoen gewen. In 1906 was Anfield se nuutgeboude pawiljoen gedoop as Spion Kop na aanleiding van ‘n bekende veldslag (Slag van Spioenkop) wat tydens die Anglo-Boereoorlog plaasgevind het. Dit het gelei tot die bekende "Kopites" noemnaam vir Liverpool-ondersteuners.

Twee bestuurders, Bill Shankly (1959–74) en Bob Paisley (1974–83), was verantwoordelik vir ‘n aansienlike deel van Liverpool se sukses. Shankly het Liverpool van die Engelse tweede divisie geneem om uiteindelik drie Engelse topdivisie (die teenswoordige Engelse Premier League) titels te wen (1963–64, 1965–66, en 1972–73), sowel as ‘n ‘’Union of European Football Associations’’ (UEFA)-bekeroorwinning in 1973. Paisley het ‘n tweede UEFA-beker in 1976 bygevoeg, sowel as ses Engelse ligatitels, en drie Kampioeneliga-oorwinnings (1977, 1978, en 1981).

‘n Vierde Kampioeneliga-oorwinning het in 1984 gevolg, en Liverpool het die volgende jaar die eindstryd gehaal teen Juventus FC by die Heysel-stadion in België. Die wedstryd is egter versuur deur 'n tragedie toe 39 toeskouers dood is, hoofsaaklik deur die ineenstorting van ‘n stadionmuur wat veroorsaak is deur Liverpool-ondersteuners wat Juventus-ondersteuners bestorm het. Liverpool was na die gebeure vir ses jaar uit Europese kompetisies verban, en alle Engelse klubs was vir vyf jaar verban. Nog ‘n tragedie het die klub in 1989 getref toe ses-en-negentig Liverpool-ondersteuners doodgedruk is tydens ‘n Football Association-bekersemifinaal by die Hillsborough stadion in Sheffield. Dit is tot op hede Engeland se dodelikste sporttragedie.

Sedert daardie onstuimige tydperk het Liverpool ‘n derde UEFA-bekerkompetisie (2001) sowel as die 2005 en 2019 UEFA Champions League (‘’Kampioeneliga’’) titels gewen. Die klub het ook ‘n totaal van sewe FA-beker en sewe Liga-bekeroorwinnings behaal. Suksesvolle Liverpool spanne was bekend om hulle soliede verdediging, wat gesorg het vir opwindende voorspelers soos Roger Hunt, Kevin Keegan, Ian Rush, Kenny Dalglish (wat die span vanaf 1985 tot 1991 bestuur het), en Michael Owen, sowel as die aanvallende midveldspeler Steven Gerrard.[1]

  1. "Liverpool F.C." Encyclopædia Britannica. Encyclopædia Britannica Ultimate Reference Suite. Chicago: Encyclopædia Britannica, 2012.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by razib.in